Welkom by die webtuiste van die AGS Gemeente Miederpark in Potchefstroom. Die gemeente met ‘n liefde vir God en vir mense. Ons is nie hier om Potchefstroom te veroordeel nie, maar dat Potchefstroom deur Jesus Christus gered kan word.
Ons liefde vir God onstaan uit die feit dat Hy ons eerste liefgehad het. (Johannes 3:16 – Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.)
Ons glo dat liefde nie net uit woorde bestaan nie maar ook in dade en daarom is ons betrokke by en in Potchefstroom se gemeenskap. Daarom is ons leuse “In die Gemeenskap, Vir die Gemeenskap.
Ons Gemeente se Kernwaardes is ‘n lewenswyse en dit is ons strewe om hierdie waardes toe te pas, nie net alleen in die Gemeente nie, maar ook in die gemeenskap. Ons kernwaardes word soos volg omskryf:
Liefde – Soos omskryf word in Gal. 5:22 (Vrug van die Gees)
Liefde is blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.
Integriteit – Soos omskryf word in Ef. 4:13-14
Ons is koersvas en leef soos dit vir ons in die Woord omskryf word.
Ef. 4:13…totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;
Ef. 4:14....sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;
Kommunikasie – Soos omskryf in Matt. 18:15-17
Ons wil opbouende inligting op ’n sinvolle wyse oordra. Probleemoplossing moet geskied soos die Woord ons leer.
Matt.18:15 En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin;
Matt. 18:16…maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.
Matt. 18:17 En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.
Eenheid – Soos omskryf in 1 Kor. 12:21-27
Ons wil funksioneer soos daar vir ons in die Woord voorgeskryf word:
“ En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk;
en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.
Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”
Omgee
Versorging en hulpverlening sal deur die Liggaam van Christus aan ander uitgedra word.
Hand. 20:28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.
Toerusting - Soos omskryf in Ef. 4:12
Ef. 4:12...om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus.